RAPPORTEER asseblief enige skakels in hierdie webtuiste wat nie werk nie.
SKAKELS NA ANDER WEBTUISTES WAARIN JY MAG BELANGSTEL
●
●
Please REPORT any broken links in this website
LINKS TO OTHER WEBSITES YOU MAY BE INTERESTED IN
●
●
Jesus loves you, always has... always will.
Jesus het jou lief, het jou nog altyd lief gehad... sal jou altyd liefhê.
I hope you will also experience GOD’s Endless Love and Peace
Ek hoop dat jy ook GOD se Eindelose Liefde en Vrede sal ervaar
All Internet sites operating within .zaDNA (Domain Name Authority) top level domain name, must have a landing page with a visible link to www.sacoronavirus.co.za
(Government Gazette, Republic of South Africa, Vol. 657, 26 March 2020, No.43164, Page 6 – 5.1.4)
Copyright © 2008 - Background 4 Jesus Kopiereg © 2008 - Background 4 Jesus Om mee te begin, ek het hierdie webtuiste saamgestel nadat ek JESUS CHRISTUS aangeneem
het as my Verlosser en Saligmaker. Ek is deur die Gees gelei om hierdie webtuiste
tot stand te bring en sodoende die Woord van GOD aan soveel mense moontlik uit te
dra. Ek het geen opleiding ontvang of enige kennis in die opstel van webtuistes nie,
alle kennis om die webtuiste tot op hierdie punt te kry, kom van GOD deur die Gees,
alle eer aan HOM. Ek is gebore, het grootgeword en skool gegaan in Lichtenburg, Noordwes Provinsie
Suid Afrika. Ek is die jongste van vier kinders, myself, twee susters en ‘n broer.
Ek het in ‘n Christelike huis grootgeword, my Pa was ‘n werktuigkundige en my Ma
was ‘n tuisteskepper. Nadat ek matriek geslaag het, het ek werk gekry by Landbou
Tegniese Dienste in Pretoria, waar ek drie jaar gewerk het. Gedurende die drie jaar,
het ek een jaar verpligte weermagopleiding voltooi. Terwyl ek in Pretoria gewerk
het, is ek ‘n pos aangebied by Noordwes Koöperasie Beperk in Lichtenburg, wat ek
aanvaar het. Gedurende my dienstydperk by NWK Bpk het ek in drie afdelings gewerk,
die vervoer -, krediet - en kunsmisafdelings. Ek is getroud met ‘n dame wat ek in Lichtenburg ontmoet het en GOD het my en my vrou
geseën met ‘n pragtige, voorbeeldige, intelligente en hardwerkende dogter. My lewe het drasties verander, nadat ek myself een middag weereens vergryp het aan
alkohol. Ek het my bewussyn verloor en het eers die volgende oggend wakker geword.
Toe ek wakker word, het ek besef dat ek nie in beheer was van my alkohol gebruik
soos die satan my gedurig wys gemaak het nie, en dat ek ‘n alkoholis is. Ek kan onthou
dat, terwyl ek daar lê, ek aanhoudend gebid en GOD gesmeek het om my gesond te maak,
by my te bly, my nie te verlaat nie en my te beskerm. Ek kan nie onthou hoe lank
dit geneem het nie, maar mettertyd het ek begin beter voel. Ek het daardie aand
rustig geslaap en die volgende oggend opgestaan sonder nadors, hoofpyn of naarheid.
Ek het al die drank wat in die huis was onmiddelik uitgegooi en van daardie dag af
het ek nie weer ‘n lus vir enige alkohol gehad nie en ek het tot vandag, geen onttrekkings
simptome gehad nie. Ek was in my vyftiger jare op daardie stadium en het alkohol
gebruik vandat ek agtien jaar oud was. Na al daardie jare van alkohol gebruik moes
ek onttrkkings simptome gehad het, maar daar was geen onttrekking simptome nie, net
GOD kon my so volkome genees. Dit is hoe groot die krag van GOD is wanneer jy in
opregtheid tot HOM bid. Ek het GOD gedank dat HY my genees het en ek het HOM gevra
vir krag, sodat ek nie weer terug val in die satan se put van slymerige gemors nie.
Dit was die keerpunt in my lewe en die begin van die pad wat ek tot vandag loop
met my Verlosser en Saligmaker, JESUS CHRISTUS. Eendag, nie lank nadat GOD my genees het van alkoholisme, het ‘n vriendin van my
dogter gevra of sy by ons kan kom kyk na ‘n uitsending op TV van ‘n Angus Buchan
byeenkoms by Loftes Versveld in Pretoria. Ek, my vrou, my dogter en haar vriendin
het na die uitsending gesit en kyk en toe Angus Buchan aan die einde van die program
sê hy gaan ‘n gebed doen en die wat JESUS wil aanneem as hulle Verlosser en Saligmaker
moet die gebed saam met hom bid, het ek in stilte gesit en die gebed saam gebid.
Dit was ongelooflik, na die gebed het dit gevoel of ‘n geweldig gewig van my afgehaal
is, ek het geweet nou behoort ek aan JESUS en ek is skoon gewas in SY bloed. Ek het
van dié dag af, ‘n begeerte gehad om Bybel te lees, so veel moontlik kerkdienste
op die radio te luister en op die TV te kyk en om elke oggend en aand op my knieë
te gaan en te bid en ek het van daardie dag af presies dit gedoen. Ek het GOD gedank
en geprys en wanneer ek nou deur die satan versoek word gedurende die dag, het ek
satan verdryf in die naam van JESUS CHRISTUS en GOD gevra om my te beskerm teen satan. Wat ‘n mens moet besef, nadat jy JESUS aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker,
is daar ‘n geweldige begeerte, om dit wat jy ontvang en ondervind het, met ander
te deel. HIER begin dit nou moeilik raak, want jy sien, terwyl jy in satan se web
vasgevang was en besig was met goed soos, dronkenskap, vloekery, vieslike praatjies,
vuil partytjies, vuil grappe, besig was om ander te verkleineer, bakleiery, besig
was om jou eie-ek te voed, besig was met dobbel, leuns verkondig, ander emosioneel
aftakel, die lys gaan aan, het jy jouself omring met mense wat hierdie leefstyl handhaaf,
maar nou dat jy brand om dit wat met jou gebeur het en wat jy ontvang het en ondervind,
met ander probeer deel, loop jy jou teen ‘n muur vas, want die groep mense in wie
se kringe jy beweeg het, stel nie belang nie en wil dit nie hoor nie, want hulle
wil nie die leefstyl wat hulle handhaaf prysgee nie. Wanneer jy met hulle probeer
praat oor wat met jou gebeur het, word ‘n grap daarvan gemaak of jy word aangeval
en op ‘n agterbakse en onderduimse wyse in gesprekke ingetrek waar hulle dan wag
dat jy ‘n verkeerde ding sê of doen sodat hulle dan met ‘n vroom gesig kan opmerk,
‘n ware Christen sal dit nie doen nie, of sal nie so praat nie, of sal nie so optree
nie. Jy sien, terwyl jy onder die satan se mag is, laat satan jou met rus, maar wanneer
jy JESUS CHRISTUS aanneem as jou Verlosser en Saligmaker, dan sal die satan jou probeer
aftrek in die poel van slymerige gemors waar jy was en hy sal altyd die maklike uitweg
volg , deur die mense wat die naaste aan jou is te gebruik om jou te treiter en om
jou weer tot ‘n val te probeer bring (onthou altyd die volgende, die satan is die
vader van die leun en ‘n lafaard). Van hierdie mense is eie- of aangetroude familie
of vriende en hulle sal jou gesin teen jou probeer draai deur jou voor te hou as
byvoorbeeld ‘n sekte aanbidder (as gevolg van radio en TV programme waarna jy luister
of kyk). Hierdie tipe van inmenging in jou huwelik, kan lei tot egskeiding as die
band tussen jou en jou vrou nie sterk is nie, met die gevolg dat satan wen en die
betrokke mense se eie-ek en ego gevoed word. Ek het ervaar dat, hoe langer ‘n mens vir JESUS lewe, hou erger word die aanvalle,
MAAR jy moet NOOIT opgee nie, want jy is NOOIT alleen nie, GOD is altyd by jou en
wanneer jy in ‘n moeilike situasie beland, bid tot HOM en HY sal jou deur hierdie
moeilike tye dra. ‘n Mens moet elke dag waaksaam wees, die satan se aanvalle is onophoudelik,
bid aanhoudend tot GOD om jou te beskerm teen die aanvalle van die satan, sy duiwels,
demone, bose geeste, onreine geeste en die mense wat satan gebruik om jou weer tot
‘n val te probeer bring. GOD is getrou en regverdig en sal, wanneer jy in opregtheid tot HOM bid, enige iets
wat jy vra,voorsien. Maar wees versigtig, om tot GOD te bid en te vra vir bv. die
wen nommers van die Lotto, sal ‘n fatale fout wees, jy sien GOD laat HOM nie bespot
nie, so wees versigtig waarvoor jy vra wanneer jy tot GOD bid, wanneer jy bid onthou
GOD is die skepper en onderhouer van die heelal. Ek is werkloos vanaf 1999, maar
het skropwerk hier en daar gedoen, en GOD het gedurende hierdie periode, vir my en
my gesin elke dag gesorg, en HY sorg nog steeds elke dag vir ons, en ek dank GOD
daarvoor. Ons het ‘n huis en ‘n motor wat beide klaar betaal is, ek prys en dank
GOD daarvoor, ons het nog nooit honger gely nie, alle eer aan GOD daarvoor, ek en
my gesin geniet goeie gesondheid, ek prys en dank GOD daarvoor, en so kan ek aangaan
oor al die baie seëninge wat GOD daagliks oor my en my gesin bring. Wanneer die satan my gedurig aanval, dan dink ek aan my Verlosser en Saligmaker JESUS
CHRISTUS en wat HY alles deurgegaan het tot en met SY kruisiging. Gedurende daardie
geweldadige en uiters moeilike tyd waardeur HY gegaan het, het HY nooit ‘n lelike
woord aan enige van SY vervolgers geuiter nie. HY het dit alles deurgemaak, sodat
al die mense op die aarde wat JESUS CHRISTUS aanneem as hulle Verlosser en Saligmaker
en daarna nie weer sondig nie, die ewige lewe kan verkry. Wanneer ek aan dit alles
dink, dan is die aanvalle van die satan maar ‘n geringe onaangenaamheid om deur te
gaan en te weerstaan deur GOD se genade en beskermende hand en dan het ek weer moed
en krag om voort te gaan, ek weier om satan toe te laat om die vreugde uit my lewe
te neem. Ons wat JESUS CHRISTUS aangeneem het as ons Verlosser en Saligmaker en nie weer sondig
nie, moet voortdurend weerstand bied teen die satan en al sy duiwels, demone, bose
geeste, onreine geeste en die mense wat satan gebruik om jou weer tot ‘n val te probeer
bring, want ons weet wanneer JESUS op die wolke terugkom na die aarde, kom HY ons
haal en dan is ons vir ewig by HOM. WAT ‘N WONDERLIK VOORUITSIG !! My vriend, vriendin, seun, dogter, ek hoop van harte jy het al jou rug gekeer op
sonde en dat jy JESUS CHRISTUS aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker. Die
tyd raak baie min, JESUS se wederkoms is baie naby, kyk om jou wat in die wêreld
aangaan en lees dan in die Bybel, in Openbaring, wat GOD sê wat in die laaste dae
sal gebeur, en besef... ...DIE UURGLAS IS BESIG OM VINNIG LEEG TE LOOP, ASSEBLIEF, BEKEER JOUSELF. My bede is dat GOD se oneindige Liefde en Vrede met jou en jou geliefdes sal wees. Vriendelike groete, Grové Joubert.
My naam is Grové Joubert en hieronder, is iets oor my lewe...
IETS OOR MYSELF